Kaap Canaveral

'n Nasa-lugfoto van Kaap Canaveral. Die vyf paaie oor die Indian- en Banana-rivier, wat aangelê is om die lanseerterrein met die vasteland te verbind, kan op die foto gesien word, net soos lanseergeriewe en die ruimtependeltuig-landingsbaan in die noordelike gedeelte

Kaap Canaveral (Engels: Cape Canaveral; Spaans: Cabo Cañaveral) is 'n kaap en kusstrook in Brevard County, 'n administratiewe distrik in die Amerikaanse deelstaat Florida. Die kaap is langs die Atlantiese seekus van oostelike Sentraal-Florida en oos van Merritt-eiland geleë. Die kaap word deur die Banana-rivier van die eiland geskei.

Die lang en smal sanderige versperringseilande van Florida se ooskus toon baie ooreenkomste met Noord-Carolina se Outer Banks verder noordwaarts. Sommige van hierdie eilande word slegs deur 'n smal strandmeer van die vasteland geskei wat deel uitmaak van die Intracoastal Waterway, 'n lang waterweg langs die Amerikaanse ooskus. So is ook Kaap Canaveral 'n versperringseiland wat deur seestrominge langs die kus gevorm is. Terwyl die strominge hier saamgevloei het, het hulle koraalriwwe uit die Pleistoseen met sandafsettings bedek.[1]

Toe die Amerikaanse ruimtevaartpionier dr. Robert Goddard (1882–1945), 'n boorling van Massachusetts en professor in fisika, in 1920 sy wetenskaplike verhandeling A Method of Reaching Extreme Altitudes gepubliseer het waarin hy sy wiskundige teorieë oor aandrywingsmetodes vir vuurpyle beskryf[2], was Brevard County nog 'n rustige streek waar bewoners 'n bestaan gemaak het uit hul vee, die verbouing van gewasse en visvangs. Dit was steeds 'n afgeleë en yl bevolkte gebied toe die nuutgestigte lug- en ruimtevaart-agentskap Nasa (National Aeronautics and Space Administration) Kaap Canaveral in 1958 as lanseerterrein vir sy ruimteprogram gekies het nadat die eerste vuurpyle reeds in 1950 hier afgevuur is. Alle bemande Amerikaanse ruimtetuie sou later hier gelanseer word en internasionale bekendheid aan die kaap besorg.

Kaap Canaveral, wat tussen 1963 en 1973 ter ere van president John F. Kennedy amptelik Kaap Kennedy (Cape Kennedy) genoem is, maak deel uit van 'n gevoelige ekostelsel. Die lae bevolkingsdigtheid en nabygeleë Atlantiese Oseaan was – om veiligheidsredes – een van die kriteria waarvolgens Kaap Canaveral as lanseerterrein ontwikkel is. 'n Ander kriterium was oorwegings in verband met aardrotasie. Die sentrifugale krag van hierdie rotasie is die sterkste langs die ewenaar. Om voordeel daaruit te kan trek, word vuurpyle in ooswaartse rigting gelanseer. Al is daar ander plekke in die Verenigde State wat nog nader aan die ewenaar geleë is en deur uitgestrekte oseane omring word, soos Hawaii en Puerto Rico (waar die vlootbasis Roosevelt Roads 'n tyd lank as moontlike alternatiewe lanseerterrein oorweeg is), is hulle te afgeleë in vergelyking met Florida se ooskus en die logistieke voordele wat hierdie kusstreek bied.

Vanuit die Kaap Canaveral- ruimtemagstasie, wat by die kaap geleë is, en die Kennedy-ruimtesentrum (Kennedy Space Center - die lanseerterrein vir bemande sendings) op nabygeleë Merritt-eiland, is talle Amerikaanse ruimtetuie (insluitende die Apollo 11-ruimtesending wat in 1969 die eerste ruimtevaarders na die maan sou neem) sowel as die Hubble-ruimteteleskoop en ruimtependeltuie gelanseer wat onderdele vir die Internasionale Ruimtestasie vervoer en tientalle satelliete geloods of herstel het. Die hele kusstrook, wat halfpad tussen Florida se twee groot metropolitaanse gebiede Jacksonville en Miami geleë is, word derhalwe treffend Space Coast ("Ruimtekus") genoem.

  1. Eugene H. Kaplan: The Peterson Field Guide Series - A Field Guide to Southeastern and Caribbean Seashores. Cape Hatteras to the Gulf Coast, Florida, and the Caribbean. Boston and New York: Houghton Mifflin Company 1988, bl. 15
  2. Nasa.gov: Goddard Space Flight Center - Dr. Robert H. Goddard, American Rocketry Pioneer. Besoek op 2 September 2020

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search