Veen

Veen

Veen word dikwels gedefinieer as die gedeeltelik gekarboniseerde plantaardige weefsel wat in vogtige omstandighede deur ontbinding van verskeie plante en mosse gevorm word.[1]

Daar is nogtans grondklassifikasies wat 'n effens breër definisie van veengronde het: gronde wat meer as 65% organiese materiaal bevat. Die eintlike veen is 100% organiese materiaal.

Veen word in moerasse en vleilande gevorm, maar ook hier dek definisies mekaar nie altyd heeltemal nie. 'n Vleiland hoef geen veen te vorm nie.

Veenland in Kanada

Veen kan in gematigde en in tropiese klimate gevorm word, maar die plante wat dit vorm kan taamlik verskil. In tropiese gebied speel bome en hout byvoorbeeld 'n groter rol en bevat die veen hout. In gematigde streke is dit hoofsaaklik Sphagnum-mosse en segges. Die oorgang tussen beide tipes is gewoonlik naby die 35 grade noord of suid. [1]

Veengrond is sponsagtige grond wat uit halfvergane plantmateriaal bestaan. Op grond van die ligging van die veen ten opsigte van die grondwatertafel, naamlik daarbo of daaronder, word tussen hoog- en laagveen onderskei.

Albei het hul eie plantegroei. Vene lewer min voedingstowwe vir plante. Vleisvretende plante soos sonnedou van die genus Drosera of spesies van die genera Pinguicula, Utricularia en Sarracenia vind daar hulle tuiste.[2] Veengrond word meestal aangetref in die gebiede wat tydens die Pleistoseen (2 500 000 - 10 000 jaar gelede) deur ys bedek was, en wat as gevolg hiervan reliëf toon. Dit sluit groot dele van die toendra- en die naaldbosgordel in die noorde van Kanada en in Noord-Europa en die Sowjetunie in. Meer suidwaarts kom veen in reënryke streke met ʼn gemiddelde jaartemperatuur van ongeveer 12 °C voor.

Veengrond bestaan uit 'n dik laag organiese materiaal wat vanweë die stilstaan van water en die gevolglike suurstofgebrek in die grond nie heeltemal vergaan het nie. Bowendien vertraag die dikwels hoë suurinhoud van die grond die minerale werking van die bakterieë en skimmels. In sommige gebiede binne die poolsirkel bestaan daar 'n wankelende ewewig tussen bos en veen.

Die veengrond, wat aanvanklik net die laer liggende komme in die terrein opvul, neem geleidelik toe namate die water aan die rande van die kom deur die son verhit word en die harde, bevrore onderlaag begin ontdooi. Aangesien die smeltwater nie kan wegvloei nie, word die grondmoerasagtig en verander die plantegroei na sipergras, mosse en ander veenplante. Na verloop van tyd is die veenlaag dik genoeg, wat die groei van bome weer moontlik maak.

Die groeiende bome veroorsaak skaduwee, waardeur die moslaag daaronder dikker word en baie water hou. Wanneer dit vries, sit die hele massa uit, sodat die grond oplig, wat meebring dat 'n bosplantegroei weer gevestig kan word. Hierdie tipe plantegroei met afwisselende bos en moeras word taiga genoem.

In Amerika word sulke gebiede "muskegs" genoem. In die trope is die temperature, veral in die laaglande, meestal so hoog dat die afbraak van dooie plantmateriaal deur middel van bakterieë en skimmels vinnig geskied en die meeste vog verdamp. Waar die reënval egter baie hoog is en die grondwater bowendien min minerale bevat, kom veenvorming soms wel voor - hoog- sowel as laagveen. Die plantegroei is vanweë die gebrek aan voedingstowwe duidelik baie minder soortryk as die van die tropiese oerbos. Daar kom meestal immergroen spesies met breë blare voor, waaronder ook palms en Pandanus-spesies (skroefpalms). In die middel van die veen is daar nie bome nie, maar gras en sipergras of soms oop water. Veenmosse (familie Sphagnidae), die veenvormers by uitstek in die gematigde streke, kom nie in die trope voor nie.

  1. 1,0 1,1 Nature and Management of Tropical Peat Soils. Issue 59 of FAO soils bulletin, ISSN 0253-2050 J. P. Andriesse Food & Agriculture Org., 1988, ISBN 9251026572, ISBN 9789251026571
  2. "Carnivorous Plants – Killers in the Bog". ipcc.ie.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search