Ionosfeer

Die Aurora Borealis 'n verskynsel in die ionosfeer.

Die ionosfeer is 'n laag van die atmosfeer waar blootstelling aan die son se straling neutrale gasmolekule in ione verander. Die druk en digtheid van die atmosfeer neem met toename in hoogte af, en op hoogtes hoër as ongeveer 70 km is die atmosfeer gedeeltelik geïoniseer. Hierdie hoër gedeeltes van die atmosfeer staan as die ionosfeer bekend. Die bestaan van die ionosfeer is in 1925 ontdek deurdat die weerkaatsing opgevang is van radiogolwe wat vertikaal uitgestuur is. Die atmosfeer se gasmolekules word deur ultraviolet en X-strale afkomstig van die son geïoniseer.

Die gevormde positief gelaaide gasione en negatief gelaaide elektrone kan weer kombineer tot neutrale gasmolekules en 'n dinamiese ewewigsituasie ontstaan. Die mate van ionisasie word deur die stralingsintensiteit en die digtheid van die atmosfeer bepaal. Verskeie strata of lae van die ionosfeer kan ontstaan: die D-laag (70 tot 100 km), die E-laag (100 tot 140 km), die F2-laag (140 tot 200 km) en die F1-laag (200 tot 400 km). Die eerste drie lae is hoofsaaklik in die dag teenwoordig wanneer die son skyn, maar die F2-laag is ook in die nag teenwoordig. Die ionosfeer speel 'n belangrike rol by die voortplanting van radiogolwe, aangesien dit radiogolwe onder bepaalde toestande na die aarde kan terugkaats.

Die lae van die ionosfeer

Elke laag weerkaats slegs bepaalde frekwensies. Radio-uitsendings se frekwensies moet volgens die aanwesigheid van bepaalde lae aangepas word. Die F2-laag is belangrik aangesien dit radio-uitsendings gedurende die nag moontlik maak. Op 'n hoogte van 600 tot 1 000 km gaan die ionosfeer oor in die magnetosfeer. Die magnetosfeer kan nie radiogolwe terugkaats nie, en kan slegs met behulp van instrumente in ruimtetuie en satelliete ondersoek word. In die magnetosfeer word die gelaaide ione sterk deur die aarde se magneetveld beïnvloed, en deeltjies beweeg teen hoë snelhede, soos byvoorbeeld in die Van Allen-gordel. Die buitegrens - bekend as die magnetopouse word deur die son wind beïnvloed: aan die sonkant is dit ingeduik en aan die skadukant is dit druppelvormig uitgerek. Die son straal ook deeltjies uit wat steurings in die ionosfeer en magnetosfeer veroorsaak en radiokommunikasie kan versteur.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search