Covid-19-pandemie

Die Koronaviruspandemie van 2019-2020 verwys na die uitbreek van die Koronavirussiekte-2019, wat veroorsaak word deur die EARS-KoV-2-virus. Die uitbreek van 'n nuwe stam van die koronavirus is aanvanklik in Desember 2019 in die stad Wuhan, Hubei, Volksrepubliek China geïdentifiseer toe 'n groep mense met longontsteking gediagnoseer is sonder 'n duidelike oorsaak. Die covid-19-uitbraak kan as 'n pandemie gekenmerk word, het die hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie, Tedros Adhanom Ghebreyesus, op 11 Maart 2020 in Genève gesê. Op 13 Maart 2022 het die pandemie meer as 456 miljoen gevalle en 6.04 miljoen sterftes veroorsaak, wat dit een van die dodelikste in die geskiedenis maak. Die eerste bevestigde geval in Suid-Afrika van die covid-19-siekte is op 4 Maart 2020 aangemeld. Dr. Zweli Mkhize, destyds minister van gesondheid het verklaar dat die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) bevestig het dat 'n man van KwaZulu-Natal positief getoets is na 'n besoek aan Italië. Volgens statistieke van die departement van gesondheid op 15 Januarie 2024 was daar meer as 4 miljoen bevestigde gevalle in Suid-Afrika met 102 595 sterftes. Die virus versprei primêr tussen mense op soortgelyke manier as griep, deur asemhalingsdruppels wat tydens hoes of nies geproduseer word. Die tyd tussen blootstelling en die begin van die simptome is gewoonlik vyf dae, maar dit kan wissel van twee tot veertien dae. Simptome kan koors, hoes en kortasemigheid insluit. Komplikasies kan longontsteking en akute respiratoriese noodsindroom insluit. Aanvanklik was daar geen entstof of spesifieke antivirale behandeling beskikbaar nie, hoewel dadelik met laboratoriumnavorsing begin is. Pogings was aanvanklik gerig op die hantering van simptome en ondersteunende terapie. Aanbevole voorkomende maatreëls het gereelde handewas, handhawing van afstand van siek mense, monitering en selfisolasie vir veertien dae vir mense wat vermoed dat hulle besmet is, ingesluit. Openbare gesondheidsreaksies in China en regoor die wêreld sluit in reisbeperkings, kwarantyn en instel van 'n staat van inperking. Dit sluit in die afsluiting van Hubei en verskeie maatreëls in China; die kwarantyn van die Britse vaartuig Diamond Princess in Japannese waters; sowel as afsluitings in Italië. Sommige lughawens en treinstasies het siftingsmetodes soos temperatuurmeting en gesondheidsverklaringsvorms ingestel. Verskeie lande het advies uitgereik wat waarsku teen reis na streke met voortgesette oordrag in die gemeenskap, soos Sentraal-China, Italië en Iran. Skole is vir minstens 1,2 miljard kinders gesluit, insluitend alle skole en verskeie universiteite in China, Iran, Japan en Italië. Die pandemie het wêreldwye sosiale en ekonomiese ontwrigting veroorsaak, waaronder die grootste wêreldwye resessie sedert die Groot Depressie. Tot 100 miljoen mense het in uiterste armoede verval en wêreldwye hongersnode het 265 miljoen mense geraak. Die pandemie het gelei tot die uitstel of kansellasie van sport-, godsdienstige, politieke en kulturele geleenthede, wydverspreide aanbodtekorte is vererger deur paniekaankope, en die vermindering van die uitlaat van besoedelende stowwe en kweekhuisgasse. Dit het ook vreemdelingehaat en rassisme teen mense van Chinese en Oos-Asiatiese afkoms ingesluit, en die verspreiding van verkeerde inligting en fopnuus oor die virus, hoofsaaklik aanlyn. 'n Voorbeeld van sodanige vals inligting is die samesweringsteorievideo, Plandemic, wat in Mei 2020 vrygestel is.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search