Trojaan (sterrekunde)

Die trojaanpunte is rooi en hulle is L4 en L5 gemerk; hulle kom voor in die wentelbaan van ’n sekondêre voorwerp soos ’n planeet (blou) wat om ’n primêre voorwerp soos ’n ster (geel) wentel. Die ander Lagrange-punte is L1 tot L3.
Jupiter se trojaan-asteroïdes (in groen) voor en agter die planeet in sy wentelbaan. Ook op die illustrasie is die asteroïdegordel (wit) en die Hilda-familie asteroïdes (bruin), wat deur verskeie L-punte beweeg.

’n Trojaan in sterrekunde is ’n kleinplaneet of natuurlike satelliet (maan) wat ’n wentelbaan deel met ’n planeet of groter maan, maar nie daarmee bots nie omdat hulle vasgevang is by een van die twee stabiele Lagrange-punte, L4 en L5 (ook trojaanpunte genoem), wat onderskeidelik sowat 60 grade voor en agter die groter voorwerp in sy wentelbaan voorkom. Trojane word soms ook Lagrange-voorwerpe genoem.

Lagrange-punte is posisies van stabiele swaartekrag – die punte waar die gesamentlike swaartekragaantrekking van twee groot liggame (soos ’n planeet en die ster waarom hy wentel) die presiese middelpuntsoekende krag verskaf wat nodig is sodat die trojaan saam met die kleiner liggaam om die groter liggaam kan wentel en dié wentelbaan stabiel bly.[1]

In 2011 het Nasa die ontdekking aangekondig van 2010 TK7, die eerste Aarde-trojaan.[2]

  1. Robutel, Philippe; Souchay, Jean (2010), "An introduction to the dynamics of trojan asteroids", in Dvorak, Rudolf; Souchay, Jean, Dynamics of Small Solar System Bodies and Exoplanets, Lecture Notes in Physics, 790, Springer, p. 197, ISBN 3-642-04457-3, http://books.google.com/books?id=CLUYgQlWz4IC&pg=PA197 
  2. "NASA's WISE Mission Finds First Trojan Asteroid Sharing Earth's Orbit 7.27.11". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Mei 2017. Besoek op 26 April 2015.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search