Swaartekrag

Swaartekrag hou die planete in hul wentelbane om die son (nie volgens skaal).

Swaartekrag of gravitasie is 'n aantrekkingskrag wat twee massas op mekaar uitoefen. Swaartekrag is die oorsaak van die afwaartse krag wat alle liggame op aarde ondervind. Swaartekrag kan egter ook oor 'n groot afstand uitgeoefen word soos byvoorbeeld tussen die aarde en die maan en selfs tussen sterrestelsels. Dieselfde swaartekrag wat daarvoor verantwoordelik is dat 'n appel op die grond val, sorg ook daarvoor dat die maan of 'n satelliet in sy wentelbaan om die aarde bly en dat die aarde in sy baan om die son bly.

Swaartekrag is 'n krag wat 'n liggaam byvoorbeeld ten opsigte van die aarde ondervind. Die swaartekragwette is in die 17de eeu deur Isaac Newton opgestel en later deur Einstein aangevul en ook verbeter.

Die talryke probleme wat egter nog met die toepassing van al die teorieë ondervind word, het die vermoede laat ontstaan dat die swaartekragteorie nog nie volledig afgerond is nie. Swaartekrag (g) is 'n krag wat verskillende liggame (byvoorbeeld hemelliggame) op mekaar uitoefen. Die krag is klaarblyklik altyd in werking, ongeag die vorm, samestelling en magnetiese of elektriese lading van die materie.

Swaartekrag is egter slegs by liggame met groot massas van belang. Die krag wat byvoorbeeld tussen twee persone (naby mekaar) bestaan, is maar enkele miljoenstes van 1 N. Die krag waarmee die aarde 'n persoon met 'n massa van 70 kg aantrek, is ongeveer 700 N. Die swaartekrag is voldoende om groot planete in 'n baan om die son te hou of om materie te laat saambol tot 'n hemelliggaam.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search