Galileo Galilei

Galileo Galilei
Portret van Galileo Galilei deur Giusto Sustermans in 1636

Gebore (1564-02-15)15 Februarie 1564
Pisa, Hertogdom van Florence, Italië
Oorlede 8 Januarie 1642 (op 77)
Arcetri, Groothertogdom van Toskane, Italië
Blyplek Groothertogdom van Toskane, Italië
Nasionaliteit Italië
Vakgebied Sterrekunde, fisika, natuurfilosofie en wiskunde
Instelling(s) Universiteit van Pisa
Universiteit van Padua
Alma mater Universiteit van Pisa
Doktorale promotor(s) Ostilio Ricci
Doktorale student(e) Benedetto Castelli, Mario Guiducci, Vincenzo Viviani
Bekend vir Kinematika, dinamika, teleskopiese waarnemingsastronomie, heliosentrisme
Handtekening

Galileo Galilei (15 Februarie 15648 Januarie 1642) was 'n Italiaanse fisikus, wiskundige, sterrekundige en filosoof wat 'n groot rol in die Wetenskaplike Revolusie gespeel het. Sy prestasies sluit die ontwikkeling van die teleskoop en die daaropvolgende sterrekundige waarnemings in. Hy was ook 'n ondersteuner van Nicolaas Copernicus se teorieë. Daar is na Galileo verwys as die "vader van moderne waarnemende sterrekunde",[1] die "vader van moderne fisika",[2] en die "vader van (moderne) wetenskap".[2][3] Volgens die Britse teoretiese fisikus Stephen Hawking was "Galileo, miskien meer as enige ander persoon, verantwoordelik vir die geboorte van moderne wetenskap".[4]

Die eerste teleskoop en mikroskoop het heel waarskynlik in Nederland ontstaan iewers tussen 1590 en 1610. Hierdie kennis het gou reeds na ander lande versrpei, en teen 1610 het Galileo reeds sy eie teleskope en mikroskope in Italië gebou. Die lensstelsel wat hy gebruik het, het verskil van die van die Nederlandse uitvinders, en hoewel dit doeltreffend gewerk het, was Galileo se mikroskope maar taamlik onhanteerbaar.

Galileo is ook een van die wetenskaplikes wat die fondamente vir kinematika (ook genoem "bewegingskuns"), die studie van beweging, gelê het. Onder sy bydrae tot sterrekunde was die teleskopiese bevestiging van die fases van Venus, die ontdekking van Jupiter se vier grootste mane: Kallisto, Europa, Ganimedes en Io (ook bekend as die "Mane van Galilei" ter ere aan hom) en die waarneming en analise van sonvlekke. Galileo het ook bydraes tot toegepaste wetenskap en tegnologie gelewer en die ontwerp van die kompas verbeter.

Galileo se ondersteuning van Copernicus se teorieë was omstrede tydens sy leeftyd, waartydens 'n groot meerderheid filosowe en sterrekundiges die geosentriese siening dat die Aarde bewegingloos in die middel van die heelal is aangehang het. Ná 1610 het Galileo Copernicus se teorie, dat die Son in die middel van die heelal is en dat die Aarde daarom wentel, openlik ondersteun en hy is sterk verset deur sommige filosowe en geestelikes. Twee geestelikes het hom selfs by die Romeinse Inkwisisie van 1615 aangekla en, alhoewel hy van alle klagtes verontskuldig is, het die Rooms-Katolieke Kerk in Februarie 1616 die teorie nietemin as "vals en in kontras met die Heilige Skrif" verklaar.[5][6] Na waarskuwings het Galileo ingestem om sy ondersteuning van die teorie te staak, maar het sy sienings later weer 'n keer verdedig in sy bekendste werk, Dialogo sopra i due massimi sistemi del mondo ("Dialoog rakende die twee vernaamste wêreldstelsels"), wat in 1632 vrygestel is. As gevolg van hierdie boek is hy deur die Inkwisisie verhoor, geforseer om sy meningsuitings terug te trek en tot lewenslange huisarres gevonnis.

  1. Singer, Charles (1941), A Short History of Science to the Nineteenth Century, Clarendon-uitgewers, http://www.google.com.au/books?id=mPIgAAAAMAAJ&pgis=1  (bl. 217)
  2. 2,0 2,1 Weidhorn, Manfred (2005). The Person of the Millennium: The Unique Impact of Galileo on World History. iUniverse. p. 155. ISBN 0-595-36877-8.
  3. Finocchiaro, Maurice A. (Fall 2007), "Book Review—The Person of the Millennium: The Unique Impact of Galileo on World History", The Historian 69 (3): 601–602, doi:10.1111/j.1540-6563.2007.00189_68.x 
  4. Oorspronklike Engelse aanhaling: "Galileo, perhaps more than any other single person, was responsible for the birth of modern science." uit Galileo and the Birth of Modern Science, deur Stephen Hawking in American Heritage's Invention & Technology. Lente-uitgawe van 2009, Vol. 24, Nr. 1, bl. 36n
  5. McMullin, Ernan, red. (2005). The Church and Galileo. Notre Dame, IN: University of Notre Dame Press. ISBN 0-268-03483-4.
  6. Sharratt, Michael (1994), Galileo: Decisive Innovator. Cambridge University Press, Cambridge. ISBN 0-521-56671-1.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search