Drinkwater

Kraanwater is drinkwater wat voorsien word deur binnenshuise pype en krane vir tuisgebruik.

Drinkwater, wat ook bekend staan as drinkbare water, is water wat veilig is om te drink of om te gebruik in die bereiding van kos sonder die gevaar van gesondheidsprobleme. Wêreldwyd het 91% mense in 2015 toegang gehad tot water wat geskik is om te drink.[1] Bykans 4,2 miljard mense het toegang gehad tot kraanwater terwyl 2,4 miljard toegang gehad het tot putte of openbare krane. 1,8 miljard mense gebruik steeds bronne met onveilige drinkwater wat deur ontlasting besmet kan wees. Dit kan lei tot aansteeklike diarree soos onder meer cholera en tifus.

Water is noodsaaklik vir lewe. Die hoeveelheid drinkwater wat nodig is wissel. Dit hang af van fisiese aktiwiteit, ouderdom, gesondheidkwessies en omgewingstoestande.[2] Na raming drink Amerikaners een liter water per dag met 95% wat minder as drie liter per dag drink.[3] Vir diegene wat in 'n warm klimaat werk, kan tot 16 liter per dag nodig wees. Water maak sowat 60% van die gewig van mans en 55% van die gewig van vroue uit.[4] Babas is sowat 70% tot 80% water, terwyl bejaardes sowat 45% is.[5]

In ontwikkelde lande voldoen kraanwater aan die gehaltestandaarde van drinkwater, hoewel net 'n klein deeltjie daarvan werklik gedrink word of in die bereiding van kos gebruik word. Ander tipiese gebruike is higiëne, toilette en besproeiing. Gryswater kan ook vir toilette en besproeiing gebruik word. Die gebruik daarvan vir besproeiing kan egter met risiko's gepaardgaan. Water kan ook onaanvaarbaar wees weens die vlakke van gifstowwe of drywende vaste stowwe. Die vermindering van waterverwante siektes en die ontwikkeling van veilige waterbronne is 'n groot openbaregesondheidsdoelwit in ontwikkelende lande. Gebottelde water word in die meeste dele van die wêreld vir verbruik deur die publiek verkoop.

  1. "Water Fact sheet N°391" (in Engels). Julie 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 April 2018. Besoek op 24 Mei 2015.
  2. Ann C. Grandjean (Augustus 2004). "3". Water Requirements, Impinging Factors, and Recommended Intakes (pdf). World Health Organization. pp. 25–34.
  3. Exposure Factors Handbook: 2011 Edition (PDF). National Center for Environmental Assessment. September 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 24 September 2015. Besoek op 24 Mei 2015.
  4. Miller, Thomas A. (2006). Modern surgical care physiologic foundations and clinical applications (3rd uitg.). New York: Informa Healthcare. p. 34. ISBN 978-1-4200-1658-1.
  5. Nancy caroline's emergency care in the streets (07 uitg.). [S.l.]: Jones And Bartlett Learning. 2012. p. 340. ISBN 978-1-4496-4586-1.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search