Suikerbeet

Suikerbeetplant
Suikerbeetwortels
'n Hoop pasgeoeste suikerbeet

Die suikerbeet of beetwortel (Beta vulgaris subsp. Vulgaris var. Altissima) is 'n wortelgewas wat gekweek word vir die ontginning van suiker. Die plant is 'n kweekproduk binne die beetspesie (Beta vulgaris subsp. Vulgaris). Daar bestaan 'n hele aantal rasse, wat verenig word onder die kultivargroep altissima.

Die plant word tot 80 cm hoog; sy klein blomme is op 'n steel geplaas en het geen opvallende kleure nie. Van die suikerbeet word beweer dat die plant meer CO2 sou absorbeer as ander gewasse, maar hierdie bewering kon nog nie gestaaf word nie.

Suikerpryse het aan die begin van die 19de eeu begin styg en vanweë 'n slaweopstand in Santo Domingo het invoere ook gekrimp. Gevolglik is alternatiewe bronne vir die vervaardiging van suiker gesoek. Suikerbeet is reeds in 1747 deur 'n Berlynse apteker, Andreas Sigismund Marggraf (1709-1782), as 'n suikerryke gewas uitgewys.

'n Leerling van Marggraf, Franz Karl Achard (1753-1821), het in 1786 oor die verkryging van suiker uit suikerbeet begin navorsing doen. In 1799 het hy die eerste beetsuikerbrood aan die Pruisiese koning, Frederik Wilhelm III, oorhandig, en die eerste beetsuikerfabriek is in 1801 in Silesië onder toesig van Achard begin.

Hoewel dit tegnies moeiliker en duurder is om suiker uit beet as uit riet te verkry, het suikerbeet nietemin die vernaamste suikergewas in Europa geword. Napoleon III (1803-1873) het die invoer van suiker uit Engeland om politieke redes verbied en dit het die suikerbeetbedryf in Frankryk, Duitsland, België en Nederland gestimuleer. Na die val van Napoleon III kon rietsuiker weer vryelik ingevoer word, maar die suikerbeetbedryf was toe reeds stewig gevestig.

Rietsuiker is vandag een van die belangrikste uitvoerprodukte van Derde Wêreldlande en sowat 59% van die wêreld se suiker word uit suikerriet vervaardig. Die beetsuikerproduksie van die lidlande van die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG) word egter beskerm deur invoerheffings en kwotaperke op suiker van elders.

Die grootste produsent van suikerbeet en van suiker in die algemeen buiten die EEG is die Sowjetunie, wat sy hele suikeroes self verbruik en ook nog van Kuba af invoer. Die ander groot suikerlande is Kuba, die VSA (riet- en suikerbeet), Indië en Brasilië (rietsuiker) en China (suikerbeet).


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search