Metabolisme

Een van die wesenlikste kenmerke van enige lewende organisme is 'n voortdurende metabolisme. Daar kan tussen twee soorte metabolisme onderskei word: die voortdurende afbreek van organiese materiaal (katabolisme of dissimilasie), en die opbou van nuwe stowwe uit organiese voedingstowwe wat opgeneem is (anabolisme of assimilasie).

Hierdie prosesse geskied deur die bemiddeling van ensieme en, in die meeste gevalle, in die aanwesigheid van suurstof. Deur materiaal af te breek, kom energie vry, terwyl die vervaardiging van stowwe energie nodig het. 'n Wisselterm vir metabolisme is dus energiewisseling.

Tydens groei en by massatoename word daar meer stowwe gebruik as afgebreek, dit wil sê die anabolisme is groter as die katabolisme. In volwasse organismes wat volgroei is, bestaan daar 'n dinamiese ewe wig tussen opbouing en afbreking, want liggaamsdele word voortdurend afgebreek en dan weer opgebou. Selfs in organe waar reserwevoedsel geberg word, bly die vetvoorraad nie onaangetas nie, maar reserwevoedsel word voortdurend bygevoeg of weggeneem. 'n Organisme sterf wanneer sy metabolisme ophou en ontbinding tree in.

Struktuurverlies vind onmiddellik plaas, want energie is nodig vir die voortbestaan van strukture. Slegs by plantsade en sommige insekte-eiers en –larwes kan metabolisme feitlik heeltemal ophou sonder dat strukturele skade gely word. Die belangrikste elemente waaruit organismes opgebou word, is koolstof, suurstof, waterstof, stikstof, fosfor, swael, metale soos yster en koper, halogene soos fluoor en jodium, asook mikroëlemente (spoorelemente) so os mangaan, magnesium en kobalt.

Deur die proses van fotosintese kan slegs groen plante organiese verbindings uit eenvoudige anorganiese bestanddele vervaardig. Organismes sonder chlorofil, soos swamme en diere, kan dit nie doen nie, want hulle is heterotrofe en is as sodanig afhanklik van die chemiese energie wat plante deur fotosintese in organiese verbindings vasvang. Metabolisme kan dus kortliks gedefinieer word as al die chemiese veranderinge wat in die selle van lewende organismes plaasvind. Die veranderinge word deur ensieme gekataliseer.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search