Maanwentelprogram

Lunar orbiter ruimtetuig (NASA)

Die Maanwentelprogram was 'n reeks van vyf onbemande, robotiese ruimtetuie wat om die Maan gewentel het vanaf 1966 tot 1967 en deur NASA in Amerika gelanseer is. Die hoofdoelwit was om geskikte landingsplekke vir die Apollo-ruimtetuie te identifiseer deur die Maan se oppervlakte te karteer.[1] Die ruimtetuie het die eerste foto's van die Maan se oppervlakte geneem terwyl hulle om die Maan gewentel het asook foto's van die Maan en Aarde.

Al vyf sendings was suksesvol en 99 persent van die Maan se oppervlakte is gekarteer vanaf foto's wat geneem is met 'n resolusie van 60 m of beter. Die eerste drie sendings was gebruik om twintig potensiële landingsplekke te fotograveer, gebaseer op waarnemings gedoen vanaf die Aarde. Dié is teen laehellingbane gevlieg. Die vierde en vyfde missies is aan breër wetenskaplike doelwitte gewy en is in hoë-hoogte polêre bane gevlieg. Lunar Orbiter 4 het die hele nabykant en nege persent van die verkant gefotografeer, en Lunar Orbiter 5 het die dekking van die verkant voltooi en medium (20 m) en hoë (2 m) resolusiebeelde van 36 voorafgekose gebiede verkry. Al die Lunar Orbiter-ruimtetuie is deur Atlas-Agena-D lanseervoertuie gelanseer.

Die Lunar Orbiters het 'n vernuftige fotografiesestelsel aanboord gehad. Dit het bestaan uit 'n kamera met twee lense, 'n filmverwerkings eenheid, 'n aftaster en meganisme wat die films hanteer het. Die kamera het 'n 610 mm nouhoek hoë-resolusie en 'n 80 mm wyehoek medium-resolusie lens bevat, waarvan beide hulle beelde op enkelrol 70 mm film geplaas het. Die asse van die twee kamers het saamgeval sodat die foto's geneem deur die hoë-resolusie lens gesentreer was binne die foto's wat met die medium-resolusie lens geneem is. Die film is ook beweeg gedurende die beeldvasleggingsproses om te kompenseer vir die ruimtetuigsnelheid wat deur 'n elektro-optiese sensor geskat is. Die film is dan ontwikkel, afgetas en die beelde na die Aarde gestuur.

Gedurende die Lunar Orbiter-sendings is die eerste foto's van die Aarde as 'n geheel geneem; dit het begin met die foto's van die Aarde-opkoms oor die Maan se oppervlakte geneem deur Lunar Orbiter 1 op 1 Augustus 1966. Die eerste vol foto's van die Aarde is deur Lunar Orbiter 5 geneem op 8 Augustus 1967.[2] 'n Tweede foto van die hele Aarde is op 10 November 1967 geneem, ook deur die Lunar Orbiter 5.

  1. Bowker, David E. and J. Kenrick Hughes, Lunar Orbiter Photographic Atlas of the Moon [1], NASA SP-206 (1971).
  2. "Whole Earth". Lunar Orbiter V. NASA. 8 Augustus 1967. p. 352. Besoek op 24 Desember 2008. Clearly visible on the left side of the globe is the eastern half of Africa and the entire Arabian peninsula.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search