Lugvaart

Om te vlieg was van vroeg af al een van die mens se grootste begeertes. Die hunkering blyk uit die verering van gevleuelde gode baie duisende jare gelede en uit legendes wat vertel van gevleuelde mense wat vry van die aardse swaartekrag in die ruimte kon beweeg.

Eers omstreeks die helfte van die 18e eeu kon die mens dit in die lug waag met behulp van die ligter-as-lug-toestel; die ballon. In die 19e eeu het 'n aantal lugvaartpioniers sweeftoestelle wat swaarder as lug was, ontwerp, en die Household-broers het reeds in 1875 in Suid-Afrika hulle selfgeboude sweeftuig suksesvol gelanseer.

Dit was egter die Wright-broers in Amerika wat die eerste enjinaangedrewe vliegtuig gebou het. Navorsing op die gebied van die lugvaart strek egter bale verder terug en is gedoen deur onder andere die briljante kunstenaar en wetenskaplike Leonardo da Vinci. Sedertdien het die lugvaart 'n enorme ontwikkeling deurgemaak, 'n ontwikkeling wat veral gestimuleer is deur die oorlogvoerende mensdom se behoefte aan al hoe gedugter wapens.

Tot met die Tweede Wêreldoorlog het die burgerlugvaart te midde van die vooruitgang van die vervoerwese ʼn beskeie plek bly beklee. Hierna het dit egter so snel ontwikkel dat dit spoedig die passasierskip as vernaamste mensevervoermiddel verdring het. As gevolg van die geweldige toename in burgerlugverkeer het dit noodsaaklik geword dat internasionale lugverkeersregulasies opgestel word ter beveiliging van hierdie vername vervoerdiens.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search