Lanseerontsnapstelsel

Apollo LOS getoets met 'n leë dop van die Beheer Module.

Die lanseerontsnapstelsel (LOS) of lanseeraborteerstelsel (LAS) is 'n veiligheidstelsel wat ontwerp is om die bemanning veilig te hou. Die stelsel is bo-aan die bemanningskapsule gekonnekteer en word gebruik gedurende 'n noodgeval, bv. dreigende ontploffing, om die bemanning vinnig weg van die vuurpyl te verplaas. Die LOS word beheer deur 'n kombinasie van outomatiese vuurpylfalingbespeuring en daar is ook 'n prosedure vir die ruimtemanne om die stelsel met die hand te aktiveer. Die stelsel mag gebruik word wanneer die vuurpyl nog staties op die lanseerplatform staan of gedurende die opstygtydperk. Daar is twee tipe ontsnapstelsels:

  • Die een bestaan uit 'n vastestaat-aangedrewe vuurpyl, wat net bokant die kapsule op 'n toring gemonteer is, wat 'n groot krag skielik vir 'n kort tydperk uitoefen om die kapsule na 'n veilige afstand weg van die vuurpyl te neem. Dan sal die kapsule se valskermherwinningstelsel inskakel en die kapsule land veilig op die grond of in water. In 'n normale vlug word die toring en vuurpyl mee weggedoen wanneer dit nie langer benodig word nie of nie meer effektiewelik gebruik kan word nie. Hierdie ontwerp was gebruik op die Mercury-, Apollo-, Sojoes- en Shenzhou kapsules.
  • Die tweede tipe is waar die bemanning in stoele sit wat kan uitskiet, soos gebruik in militêre vliegtuie. Elke bemanningslid keer terug na die aarde met sy eie valskerm. Hierdie tipe stelsel is net effektief vir 'n beperkte reeks hoogtes en snelhede. Die stelsel is gebruik in die Wostok- en Gemini kapsules.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search