Bevolkingsafname

Lande met 'n bevolkingsafname word in rooi aangedui.

Bevolkingsafname kan verwys na die algemene afname in bevolking van enige organisme, maar in hierdie artikel word daar uitsluitlik op die bevolkingsafname van die mens toegespits. Dit is ’n bewoording wat gewoonlik gebruik word om ’n groot vermindering van die menslike bevolking te omskryf.[1] Dit kan ingespan word om te verwys na ’n langtermyn neiging van bevolkingspreiding, soos stedelike agteruitgang of landelike ontvolking, maar dit word ook algemeen gebruik om ’n groot vermindering van bevolking weens geweld, siekte of ander rampe na te verwys.[2]

Bevolkingsafname beteken die vermindering met verloop van tyd van 'n betrokke gebied se volkstelling, wat ook bekend staan as ontvolking. Dit kan weens verskeie redes veroorsaak word; onder meer sluit dit ondervervangingsvrugbaarheidskoerse (waar die vrugbaarheidskoers te laag is om ’n gebied se bevolking in die toekoms mee te vervang), beperkte immigrasie, grootskaalse landverhuising, siekte, hongersnood en oorlog in. Die geskiedenis is vol voorbeelde van grootskaalse ontvolking. Vele oorloë, byvoorbeeld, het gepaardgegaan met aansienlike ontvolking. Voor die 20ste eeu was die meeste bevolkingsafname toe te skryf aan siekte, hongersnood en/of emigrasie. Die Swart Dood in Europa, die verspreiding van ouwêreldse siektes na die Amerikas, die tsetsevliegindringing van die Waterbergmassief in Suid-Afrika en die Groot Ierse Hongersnood het almal gewigtige bevolkingsafname tot gevolg gehad. Tans het die Vigspandemie grootliks bygedra tot die afname in die bevolking van party Afrikalande. Minder dikwels sal bevolkingsafname deur volksmoord of massa-uitwissing teweeggebring word; ’n voorbeeld hiervan was onder meer in die 1970’s toe die bevolking van Kambodja onder ’n tydperk van massa-teregstellings, wat deur Khmer Rouge uitgevoer is, gebuk gegaan het.

Gedurende Imperialisme het Europeërs wat na nuwe vastelande getrek het, nie slegs oorlogswapens saamgebring wat grootskeepse verwoesting kon saai nie, maar ook aansteeklike siektes, soos pokke, waarteen die inheemse volke geen weerstand kon bied nie. Hierdie faktore, veral laasgenoemde, het partykeer ’n verwoestende uitwerking op die plaaslike inwoners gehad.
Hier volg enkele geskiedkundige voorbeelde van groot ontvolking wat regoor vastelande gewoed het:

  • Die Plaag van Justinianus in Europa en die Midde-Ooste;[3]
  • Die Swart Dood in Europa, Asië en die Midde-Ooste gedurende die Middeleeue;
  • Die impak van die Arabiese en Europese slawehandel op die Afrika-vasteland;
  • Die impak van Europese kolonialisme en die gepaardgaande aansteeklike siektes wat in die Amerikas en Australië versprei is.[4]

Party voorbeelde van ontvolking binne groot gebiede is hoofsaaklik deur oorlog aangevuur, soos:

  • Die Mongoolse verowerings van Sjina, Rusland en die Midde-Ooste;
  • Timoer Lenk se militêre veldtogte in die Midde- en Nabye-Ooste;
  • Die Dertigjarige Oorlog in Europa;

Hongersnood speel ook dikwels ’n rol met die ontvolking van ’n streek, hetsy as gevolg van oorlog, veranderende klimaatstoestande, menslike onbevoegdheid, ensovoorts.
Volgens 2002 se verslae deur die Verenigde Nasies se Bevolkingsafdeling [5] en die Verenigde State se Sensusburo,[6] vind bevolkingsafname vandag in party streke plaas. Volgens die VN word ondervervangingsvrugbaarheid verwag in 75% van die ontwikkelde lande teen 2050. Die VS Sensusburo noem dat 74 miljoen mense wat tot die wêreldbevolking in 2002 gevoeg is, minder is as die hoë 87 miljoen mense wat tussen 1989 tot 1990 gebore is. Die jaarlikse groeikoers was 1,2 persent, wat gedaal het van die hoë 2,2 persent in 1963–1964.
“Sensusburo-vooruitskattings dui op ’n afplatting in bevolkingsgroei wat in die nabye toekoms sal voortduur,” het die Buro op sy bevindinge van melding gemaak. “Sensusburo se vooruitskattings dui daarop dat die vrugbaarheidskoers in baie lande sal afneem, onder die vervangingsvlak voor 2050... In 1990 het die wêreldbevolking se vroue gemiddeld aan 3,3 kinders oor hul lewensduur geboorte geskenk; teen 2002 was die gemiddelde 2,6 en teen 2009 het dit op 2,5 te staan gekom. Dit is nouliks bokant die wêreldwye vervangingsvrugbaarheidskoers van 2,33. Hierdie daling het gepaardgegaan met ’n afname in die wêreld se bevolkingsgroeikoers en die werklike jaarlikse bevolkingstoename.”
Soms word die woord onderbevolking gebesig in die konteks van ’n spesifieke ekonomiese stelsel. Dit verwys nie na drakrag nie (en staan ook nie oorbevolking teen nie), wat te make het met die totale moontlike bevolking wat deur beskikbare voedsel, water, sanitasie en ander infrastruktuur onderhou word. “Onderbevolking” word gewoonlik omskryf as ’n toestand waarbinne ’n land se bevolking só gedaal het dat dit nie meer die huidige ekonomiese stelsel kan volhou nie. Dus het die vakwoord niks met die biologiese aspekte van drakrag mee uit te waai nie, maar is ’n ekonomiese term wat veronderstel dat die oordragpaaiementskemas van party ontwikkelde lande kan vou indien die bevolking verby ’n sekere punt gedaal het. ’n Voorbeeld hiervan kan wees wanneer afgetredenes deur ’n sosiale sekuriteitstelsel ondersteun word, wat nie spaargeld belê nie, en dan ’n skielike emigasiebeweging ontstaan. In hierdie geval word ’n swaar finansiële las op die jonger geslag se skouers gelaai wat moontlik nie daartoe in staat sal wees om die oorgrote meerderheid ouer geslagte te onderhou nie.

  1. Depopulate – Webster's Online Dictionary
  2. Depopulate – yourdictionary.com.
  3. Population crises and cycles in history Geargiveer 5 April 2011 op Wayback Machine. A review of the book Population Crises and Population cycles by Claire Russell and W.M.S. Russell.
  4. "Stacy Goodling, "Effects of European Diseases on the Inhabitants of the New World"". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Mei 2008. Besoek op 10 November 2010.
  5. "World Population Prospects – The 2002 Revision" (PDF). United Nations Population Division.
  6. "Global Population Profile: 2002" (in Engels). US Census Bureau. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Junie 2011.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search