Artemis-program

Artemis is 'n program van Nasa en sy vennote die ESA, JAXA en CSA.

Die Artemis-program is 'n verkenningsprogram na die Maan wat robot- en bemande vlugte insluit. Dit staan onder leiding van Nasa, met drie ander vennootinstellings wat betrokke is: die Europese Ruimteagentskap (ESA), Japannese Aëroruimteverkenningsagentskap (JAXA) en die Kanadese Ruimteagentskap (CSA). As die program geslaagd is, sal dit weer 'n menslike teenwoordigheid op die Maan vestig, die eerste keer sedert die Apollo 17-sending in 1972. Die belangrikste komponente van die program is die Ruimtelanseringstelsel (SLS), Orion-ruimtetuig, Lunar Gateway-ruimtestasie en die kommersiële menselandingstelsels, insluitende Starship HLS. Die langtermynvisie van die program is om 'n permanente basiskamp op die Maan te vestig en menslike sendings na Mars te vergemaklik.

Die Artemis-program is 'n samewerkingspoging deur ruimteagentskappe en maatskappye oor die hele wêreld wat deur die Artemis-akkoorde en steunkontrakte saamgebind word. Teen Julie 2022 het 21 lande die akkoorde onderteken,[1] insluitende tradisionele Amerikaanse vennote (soos die Europese Ruimteagentskap en agentskappe van Kanada, Japan en Brittanje), sowel as opkomende ruimtelande soos Brasilië, Suid-Korea en die Verenigde Arabiese Emirate.[2]

Die Artemis-program is in 2017 amptelik beplan tydens die Trump-administrasie. Baie van die komponente, soos die Orion-tuig, is tydens die vorige Constellation-program (2005-2010) en ná sy kansellasie ontwikkel. Orion se eerste lansering en die gebruik van die Ruimtelanseringstelsel is aanvanklik in 2016 beplan, maar is geskeduleer vir 2022 as die Artemis 1-sending, met robotte en mannekyne aan boord.

Die plan is dat die bemande Artemis 2-lansering in 2024 sal plaasvind, die bemande Artemis 3-maanlanding in 2025, die Artemis 4-aansluiting by die Lunar Gateway in 2027 en daarna jaarlikse maanlandings. Sommige waarnemers meen egter die program se koste en tydlyn sal waarskynlik oorskry en vertraag word weens Nasa se swak bestuur van kontrakteurs.[3][4]

  1. "NASA: Artemis Accords". NASA. Besoek op 28 Augustus 2022.
  2. Foust, Jeff (10 Desember 2021). "Mexico joins Artemis Accords". SpaceNews (in Engels (VSA)). Besoek op 28 Augustus 2022.
  3. "NASA's management of the Artemis missions" (PDF). NASA Office of Inspector General. 15 November 2021. "What We Found" section at 3th and 4th page. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 15 November 2021. Besoek op 22 November 2021.
  4. Davis, Jason (11 Junie 2019). "NASA's Artemis program will return astronauts to the moon and give us the first female moonwalker". NBC News (in Engels). Besoek op 27 Augustus 2022.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search